Biografie
 
Andreas du Preez is in Pretoria gebore, maar spandeer die eerste paar jaar van sy lewe in Boksburg.  Daarna verhuis sy ouers na Brits waar hy sy skoolloopbaan in Laerskool Olienpark en Hoërskool Brits deurbring.  Na matriek verwerf hy 'n graad in Landmeetkunde aan die Universiteit van Pretoria en registreer 'n jaar en 'n half later as 'n professionele landmeter.  Hy verwerf verder ook 'n Meestersgraad in Stads-en streekbeplanning aan die Universiteit van die Vrystaat.

Alhoewel hy nog altyd lief was vir sing, het Andreas tydens sy skoolloopbaan die sportveld bo kultuur gekies.  Hy was mal oor enige balsport en het ook die geleentheid gehad om vir sy skool se eerste rugby- en krieketspan te speel.  In sy derde jaar op universiteit, besluit Andreas om te begin met kitaarlesse.  Sy lesse het redelik sterk gesteun op ou bekende liedjies soos "Osbraai op kromdraai", "Blouberg se strand", ens.  Die liedjies het gou opgeraak en hy het besef dat hy maar sy eie liedjies moes probeer skryf ten einde nie dieselfde liedjies oor en oor te moes sing nie.

Andreas is in 2005 getroud met Jolani.  Sy is 'n onderwyseres wat deesdae haar eie kleuterskooltjie op die been bring.  Andreas het baie geleenthede gekry, veral in sy tuisgemeente (NG Kerk Krokodilrivier), om van sy liedjies in die kerk, by vrouediensaksies, manne-ontbyte, troues, ens. te speel.  Andreas en Jolani is ook deel van hulle kerk se musiekbediening, en neem ongeveer eenmaal elke maand die leiding met die voorsang.

Andreas se eerste CD, "Klanke van hoop", word in Maart 2007 uitgereik.  Dit is 'n groot droom wat die lig sien en waaroor hy baie opgewonde is.  Die CD bevat 12 snitte waarvan die woorde en melodieë alles deur Andreas geskryf is.  Die musiek wissel van die opgewekte "Klanke van hoop" en "Gemaak om te lewe" tot die ernstiger "Besluite".

"Ek staan nog in die babaskoene van 'n groot uitdaging wat op my wag.  Ek vertrou die Here vir wysheid en koers in die uitlewing van my toekoms.  Ek is dankbaar vir elke geleentheid wat Hy oor my pad bring.  Ek raak elke keer 'n bietjie bang wanneer ek in die liedjie "Gemaak om te lewe" vir die Here sing: "maak met my wat U wil", maar ek glo dat Hy my bekwaam en opgewasse sal maak vir wat Hy ook van my verwag."

Andreas